| Chapter 94 |
1 | God van wraak, o HERE, God van wraak, verskyn in ligglans! |
2 | Verhef U, o regter van die aarde, vergeld die trotsaards hulle dade! |
3 | Hoe lank sal die goddelose, o HERE, hoe lank sal die goddelose jubel? |
4 | Hulle smaal, hulle praat onbeskaamd -- al die werkers van ongeregtigheid verhef hulle. |
5 | o HERE, hulle verbrysel u volk, en hulle verdruk u erfdeel. |
6 | Hulle maak die weduwee en die vreemdeling dood en vermoor die wese |
7 | en sê: Die HERE sien dit nie, en die God van Jakob merk dit nie. |
8 | Let op, o onverstandiges onder die volk, en julle dwase, wanneer sal julle verstandig word? |
9 | Sou Hy wat die oor plant, nie hoor nie, of Hy wat die oog formeer, nie sien nie? |
10 | Sou Hy wat die nasies tugtig, nie straf nie -- Hy wat die mens kennis leer? |
11 | Die HERE ken die gedagtes van die mense -- dat hulle nietigheid is. |
12 | Welgeluksalig is die man, o HERE, wat U onderrig en wat U leer uit u wet, |
13 | om hom rus te gee van die dae van teëspoed, totdat die kuil vir die goddelose gegrawe word. |
14 | Want die HERE sal sy volk nie verwerp en sal sy erfdeel nie verlaat nie; |
15 | want die regspraak sal terugkeer tot geregtigheid, en al die opregtes van hart sal dit volg. |
16 | Wie sal vir my optree teen die kwaaddoeners? Wie sal my bystaan teen die werkers van ongeregtigheid? |
17 | As die HERE vir my nie 'n hulp was nie, dan het my siel gou in die stilte gewoon. |
18 | As ek dink: My voet wankel -- dan ondersteun u goedertierenheid my, o HERE! |
19 | As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel. |
20 | Het die regterstoel wat onheil stig, met U gemeenskap; wat moeite versin teen die insettinge in? |
21 | Hulle bestorm die lewe van die regverdige en veroordeel onskuldige bloed. |
22 | Maar die HERE is 'n rotsvesting vir my, en my God die rots van my toevlug. |
23 | En Hy laat hulle ongeregtigheid op hulle terugkeer en verdelg hulle in hul boosheid; die HERE onse God verdelg hulle. |